Beste Tjirp-lid,

Stadig maar seker begin die vakansiegees posvat, ook hier by Innibos, en lê daar hopelik heelwat gesellige samesyn voor met familie en vriende. Geniet ’n welverdiende ruskans!

As jy dink Innibos is DIE fees…
…benoem ons asseblief vir die kykNet Fiëstas as gewildste kunstefees in die land.

Dit neem minder as ’n minuut (gebruik die skakel https://kyknet.dstv.com/wen/fiestas-2018-benoem-jou-gunsteling-fees) en een benoeming per e-posadres is geldig. Benoemings sluit om middernag op Donderdag, 30 November.

Indien Innibos as een van die feeste benoem word, begin die stemmery later in Desember in alle erns en kan ons Laeveldse fees dalk vir die derde keer agtereenvolgend aangewys word as die wenner in dié kategorie.

Stuur dus nóú jou benoeming sodat Innibos die kortlys haal!

Kunssake
Innibos verwelkom Johan Myburg as die kunskurator vir die volgende drie jaar. Johan is ’n ervare kunskenner, asook kunsskrywer en digter, met ’n besondere vermoë om die kunswêreld op ’n toeganklike manier aan mense bekend te stel.

Aldus Johan: “Dis vir my ’n voorreg en eer om op dié manier betrokke te wees by Innibos. Ek hoop om, met die aard van die fees in gedagte, vir feesgangers ’n kunsaanbod te bied wat nie net horisonne verruim nie, maar ook jare se vreugde teen (sitkamer)mure sal bied.”

John Anthony Boerma, vorige kunskurator wie se termyn verstryk het, sal steeds betrokke wees by die Nasionale Kunshandwerkkompetisie, wat aanstaande jaar vir die tweede keer gehou word.

Inskrywings vir die 2018-kompetisie is reeds oop – herinner asseblief ook die talentvolle crafters in jou vriendekring! Neem bloot ’n foto van jou handwerkkuns langs ’n boksie vuurhoutjies ter wille van skaal, en stuur dit per e-pos na crafts@innibos.co.za. Jy kan dit ook per WhatsApp of MMS stuur na 071 621 3597. Onthou om jou naam, dorp/stad waar jy woon en kontakbesonderhede in te sluit.

Die kategorieë is keramiek, kralewerk, draadkuns, houtwerk, juwele, papier, materiaalverf en –drukwerk, kwilts, leer, pewter, glas, boorduur en gemengde media. ’n Wenprys van R50 000 is onder meer op die spel.
Maak dié vakansie dus ’n vlytige en kunstige een … sodra jy jou benoeming vir Innibos gestuur het, vanselfsprekend!

Herregistreer vir Tjirp!
Ons lys van intekenare vir Tjirp! het oor die afgelope 14 jaar tot ‘n hele paar duisend lede aangegroei. Om verskeie redes raak van die epos-adresse oor tyd onaktief. Dit veroorsaak talle probleme wat ons nou wil aanspreek.

Die enigste oplossing is om ‘n SPLINTERNUWE databasis te skep met ons aktiewe lesers se besonderhede. Daarom is ‘n nuwe webwerf geskep, uitsluitlik vir die doel om registrasie van lesers van ons nuusbrief te administreer.

Daarom hierdie dringende versoek…

Indien jy nog nie na 1 Oktober 2017 weer vir Tjirp! geregistreer het nie, wil ons jou vra om dit sommer dadelik te doen. Hieronder is ‘n skakel waarop jy moet klik om te registreer. As jy onseker is, registreer liewer weer.

Om te registreer is vinnig en maklik!

Klik HIER om gou te registreer.

Baie dankie vir jou volgehoue ondersteuning!

Tjirpgroete!