Beste Tjirp!-lid,

Innibos is reeds in die verskiet en ons hou sedertdien diepe nabetragting. Binnekort skop ons weer af met die reëlings vir volgende jaar se fees (eintlik het ons al reeds begin!). Terloops, omkring sommer nou al die feesdatum in jou 2018-dagboek: 27-30 Junie.

Wie, wat en hoeveel
Jaarliks tydens die fees word talle vraelyste aan feesgangers uitgedeel as deel van die Noordwes Universiteit (NWU) se TREES (Tourism Research in Economic Environs and Society)-departement se navorsing.

Hier is ’n paar interessante oor vanjaar se Goed, beter … Innibos wat uit dié verslag blyk:

  • Die amptelike besoekerstal was 109 564, met sowat 30 652 mense wat die fees op die Saterdag bygewoon het.
  • Die feesgangers word jonger, met die hoogste persentasie bywoning gemeet in die ouderdomsgroep 18-25 jaar (28%), gevolg deur 22% in die 46-60 jaar ouderdomsgroep. Die gemiddelde ouderdom van feesgangers vanjaar is 39 jaar.
  • 42% feesgangers woon in Mpumalanga, terwyl 37% van Gauteng is, 5% elk is van die provinsies Noordwes en Limpopo, en 4% van die Vrystaat en Wes-Kaap.
  • Die gemiddelde bedrag spandeer per persoon was vanjaar R4 690. Dit sluit in verblyf, kos en restaurante, drinkgoed en toegangsgeld. In 2016 was die bedrag R4 149. Die volledige Geskatte Ekonomiese Impakassesering word tans nog bereken, maar Innibos is vol vertroue dat dit verlede jaar se syfer van R86 miljoen sal oorskry.
  • Daar is ’n beduidende toename in feesgangers wat die fees vir die eerste keer bygewoon het (21%), met 20% wat aangedui het dat hulle die fees meer as 10 keer die afgelope 14 jaar bygewoon het.
  • 55% respondente gee voorkeur aan televisie en radio as kommunikasiemiddel, met riemtelegramme (word of mouth) ’n kortkop agter (52%), gevolg deur sosiale media (48%).
  • Media ter waarde van R35 miljoen betreffende Innibos is geskep. Dit sluit nie betaalde advertensies in nie.

Hoe lank is ’n tou?
Op dié vraag kan ’n mens mos nie sommer die regte antwoord gee nie, maar by Innibos word daar heeltyd getel…

Hier is so ’n klompie syfers wat ’n interessante perspektief gee op die omvang van die kunstefees:

  • Innibos het 35 000 volgers op sosiale media platforms: 20 000 op Facebook, 12 000 op Twitter en 3 000 loer op ons Instagram-profiel.
  • 8 000 swart sakke is gebruik om die fees rommelvry te hou; en 3 500 rolle toiletpapier.
  • Sowat 750 neonligte word op die terrein gebruik.
  • Nagenoeg 1100 muurproppe word geïnstalleer.
  • Elektriese kabels van 45 000 meter is aangebring.
  • En op ’n soet noot: by die Ytipan inniePens-pannekoekstalletjie is ’n allemintige totaal van 17 539 pannekoeke gebak! Daarvoor is sowat 65 20-liter emmers vol deeg gebruik, 1 984 eiers en 10,39 kg kaneel. As al die pannekoeke opmekaar gestapel sou word, sou dit 26,3 meter hoog wees. Indrukwekkend!

Een van die dae skop Aardklop af op Potchefstroom – geniet dit en veilig reis as jy dit gaan bywoon!

Ons stuur vroeg volgende week ‘n baie belangrike nuusbrief uit, maak asseblief seker dat jy dit lees!

Tjirpgroete!